Vertel dit aan die nageslag

By elke doopvont waar hy gestaan het, het dieselfde gedagte hom weer ingehaal. Dit was nie ’n vraag wat hardop gevra is nie. Dit was eerder ’n stille gewig wat saam met die water en die beloftes in die lug gehang het:

Wat gaan hierdie kind eendag van God weet, en wie gaan dit vir hom of haar vertel?

Daar, in daardie oomblik, het hy telkens weer besef: die doop is nooit net ’n mooi ritueel nie. Dit is ’n keerpunt. ’n Oomblik wat nie net terugkyk na God se genade nie, maar vooruit wys na ’n pad wat nog gestap moet word.

Psalm 78 het hom juis hier gegryp. Hierdie psalm het die doop uit die sfeer van sentiment gelig en dit vasgeanker in die erns én die genade van God se verbond. Dit het herinner: doop is nie iets wat verbygaan wanneer die water opdroog nie. Dit is ’n roeping wat oor geslagte strek.

Wanneer die woorde van die psalm klink, “My volk, luister na my onderrig, neig julle oor tot die woorde van my mond”, was dit nie ’n sagte uitnodiging nie, maar ’n dringende oproep. Dit was asof God self sê: Kyk mooi. Luister mooi. Wat hier gebeur, dra verder as vandag.

Die psalm se woorde was onmiskenbaar: “Ons sal dit nie vir hulle wegsteek nie.”

Juis dit het hom diep geraak want, geloof verdwyn selde skielik. Dit verdof stadig. Eers word daar minder vertel. Dan minder onthou. Tot ’n volgende geslag eendag opstaan wat nie meer weet wie God is nie, nie omdat God afwesig was nie, maar omdat niemand meer Sy dade benoem het nie.

By die doopvont het dit duidelik geword: ouers en gemeente is draers van God se storie. Nie van suksesverhale nie. Nie van foutlose geloof nie, maar van ’n God wat handel, red, vergewe en getrou bly, selfs wanneer mense struikel.

Psalm 78 het egter nie daar gestop nie. Dit het nie net oor vertelling gepraat nie, maar oor vorming. Oor onderrig. Oor ’n lewe wat gerig word deur God se wil. Hier het die eggo van Deuteronomium 6 duidelik geklink: geloof word nie net by spesiale geleenthede oorgedra nie. Dit leef in huise, op paaie, in oggende en aande, in alledaagse gesprekke en keuses.

Dit het hom laat besef: doop is nie ’n belofte van perfeksie nie. Ouers belowe nie om alles reg te doen nie. Hulle belowe iets diepers, om hulle kinders in te lei in ’n geloofsverhaal wat leefbaar is. ’n Geloof wat gehoor word in woorde, gesien word in dade, en gevoel word in liefde en vergifnis.

Dit was nie net ’n taak vir ouers nie. Psalm 78 het met die hele volk gepraat. Met die gemeenskap. Met almal wat saam deel is van God se verbond, maar daar was ook eerlikheid. Die wete dat selfs die beste bedoelings gebroke bly. Dat daar dae kom van moegheid. Dae van stilte waar woorde nodig was. Dae van onsekerheid.

Juis daarom het Jeremia 18 vir hom soveel rus gebring. Die beeld van God as die Pottebakker het alles in perspektief geplaas want, dit het herinner: ouers vorm nie uiteindelik nie. Die gemeente vorm nie uiteindelik nie.

God doen.

Mense dra. God vorm.

Selfs wanneer mense faal, bly God getrou. Hy laat nie los wat Hy begin het nie en in Christus word hierdie verbond sigbaar en tasbaar. Jesus wat kinders in Sy arms neem. Jesus wat nie wag vir begrip voordat Hy insluit nie. Jesus wat wys dat God se genade altyd voorloop, voor verstaan, voor prestasie, en voor woorde. Dit is waarom die doop nooit ’n prestasie is nie. Dit is ’n belofte. ’n Belofte van God se trou lank voordat ’n kind kan antwoord.

Psalm 78 waarsku teen ’n geslag wat vergeet, maar dit nooi ook na ’n toekoms wat vertrou want, die doop sê steeds, helder en duidelik:

Hierdie kind behoort aan God. Hierdie gemeenskap dra saam verantwoordelikheid. Hierdie storie moet bly voortgaan.

So het hy weggestap van die doopvont, nie met maklike antwoorde nie, maar met ’n heilige vraag wat saamgeneem word huis toe:

Wie sal dit môre vertel, en hoe sal dit geleef word?

Amen.