Matteus 21:5
Die dorp was die Sondagoggend reeds lewendig. Mense het begin uitbeweeg na die smal stofstraatjies toe, kinders het gelag en mekaar gesoek, en daar was ’n gevoel dat iets op pad is… iets of iemand besonders. Nie almal kon dit beskryf nie, maar daar was ’n verwagting in die lug, soos wanneer reën op pad is en die aarde dit nog nie weet nie.
Aan die kant van die pad het ’n klompie kinders hul eie toneeltjie gespeel. Een het ’n papierkroon op sy kop gedruk, sy oë groot van opgewondenheid. ’n Ander het ’n denkbeeldige rooi mantel om sy skouers geplaas, terwyl ’n derde regop op ’n klip gesit het asof hy op ’n troon was. Vir hulle was dit eenvoudig: ’n koning is sterk, indrukwekkend, vol fanfare en gewis omring deur soldate, perde en trompette. Dit was hoe hulle mag verstaan het, maar toe gebeur daar iets wat niemand verwag het nie. ’n Sagte geluid, amper soos ’n balk, het oor die pad gedryf. Die kinders het opgekyk… en daar sien hulle ’n klein bruin donkie stadig aanstap. Sy oë was sag, sy ore het ritmies op en af gewieg, en sy hoefies het ’n dowwe klap teen die grond gemaak. Sommige dorpenaars het begin fluister en skud-ing van koppe uitgeruil: ’n donkie? Watter belangrike persoon sou op só ’n dier ry? Dansien hulle Wie op die donkie sit… Jesus.
Nie op ’n groot wit strydperd nie. Nie omring deur ’n leër nie. Nie met trompette en blink wapens nie. Hy sit nederig, rustig, ’n stille teenwoordigheid vol vrede. Die woorde van die profeet Sagaria, eeue gelede gespreek, het soos ’n sagte wind deur die skare beweeg: “Kyk, jou Koning kom na jou toe… nederig… op ’n donkie.”
Mense het stil geword. Selfs die kinders het hul spel laat sak en nader gestap, want hierdie Koning was anders. Hy was nie ver verhewe van hulle nie. Hy het nie gewag dat mense deur hekke en wagte werk om by Hom uit te kom nie. Hy het self na húlle toe gekom, na gewone mense, na kinders, na ouers wat moeg is, na mense wat nie alles verstaan nie. So maklik soos om ’n enkele tree vorentoe te gee, só naby was Hy.
Die donkie het stadig aangehou stap, en elke nou en dan het Jesus sy hand uitgesteek om iemand te groet. Daar was geen vertoon nie, geen arrogansie nie, geen druk om bang te wees nie. Alles aan Hom het vrede uitgestraal, die soort vrede wat nie skree nie, maar stil die hart vul. ’n Donkie, besef die mense skielik, is nie ’n simbool van swakheid nie. Dit is ’n simbool van vrede. Waar ’n oorlogperd stof en dreuning bring, bring ’n donkie sagtheid en nabyheid.
Kinders het spontaan begin balk soos donkies, en die mense het gelag. Toe boots hulle die geluid van ’n perd na, hard, dramaties, onstuimig. In daardie eenvoudige spel het die waarheid vir almal duidelik geword: ’n koning op ’n perd kom om oorlog te maak, maar ’n Koning op ’n donkie kom om vrede te bring.
Jesus wys die dorp, en ons, dat God se krag anders lyk as die wêreld se krag. Hierdie Koning dwing nie mense met geweld nie; Hy wen hulle met liefde. Hy bou nie ’n koninkryk op vrees nie, maar op nabyheid. Hy vra nie dat mense groot moet wees, slim moet wees, sterk moet wees om betekenisvol te wees nie. Hy wys dat sagtheid meer krag dra as swaarde, dat diens groter is as heers, dat liefde sterker is as mag.
Terwyl Jesus verbystap, staan ’n man in die skare met ’n swaard aan sy sy. Hy kyk na sy wapen, na die punt en die blink lem. ’n End verder sien hy iemand op ’n troontjie sit wat hulle vroeër vir pret gebruik het, en dan sien hy die donkie. Die drie beelde lê soos ’n vraag in die pad: die swaard, die troon en die donkie. Wat kies ’n koning? Wat kies die mens wat Jesus volg?
Wanneer die donkie weer balk, glimlag die man. Hy weet. Jesus het reeds gewys watter weg Hy kies en Hy nooi elkeen, jonk en oud, om dieselfde weg te stap. ’n Weg van sagtheid in ’n harde wêreld. ’n Weg van vrede waar ander stry. ’n Weg van liefde waar ander wil wen.
Die donkie stap oor ’n laaste klip, en Jesus kyk terug na die mense wat Hom volg. Daar is geen oordeel in sy oë nie, net uitnodiging. Hy kom naby, altyd naby. Nie omdat mense volmaak is nie, maar omdat Hy liefhet.
So bly die woorde oor die dorp hang, soos ’n seën: “Kyk, jou Koning kom na jou toe.” Nie ver nie. Nie hard nie. Nie hoog en onaantasbaar nie, maar nederig op ’n donkie.
