1 Johannes 1:1-4
DIE VERSKIL TUSSEN HOOR EN ERVAAR
Daar is ’n verskil tussen om van iets te weet, en om dit werklik te ervaar. Ons kan hoor dat die son warm is, maar eers wanneer jy in die oggendlig staan, voel jy die hitte op jou vel. Ons kan oor liefde praat, preke daaroor luister, boeke daaroor lees, maar totdat liefde jou aanraak, bly dit ’n mooi gedagte.
Die eerste brief van Johannes begin nie met ’n teorie oor God nie, maar met ’n getuienis van ervaring:
“Wat ons van die begin af gehoor het, wat ons met ons eie oë gesien het,
wat ons aanskou het, en met ons hande getas het, dit verkondig ons aan julle.”
Johannes beskryf nie geloof as iets wat geleer word nie, maar as iets wat geleef en ervaar word en dis juis hierdie ervaring wat ons vandag so nodig het: om nie net oor God se liefde te hoor nie, maar dit weer persoonlik te beleef, want as die vorige preek ons herinner het aan God se liefde vir die wêreld, ’n liefde wat red, nie oordeel nie, dan herinner vandag se teks ons aan die werklikheid van daardie liefde in ons eie lewe. Ons kan nie die liefde uitleef wat ons nie self ervaar het nie.
LIEFDE WAT GEHOOR IS: GOD SE WOORD RAAK HOORBAAR
“Wat ons van die begin af gehoor het…” (vers 1)
Elke verhouding begin met luister. God se verhouding met ons ook. Die Bybel vertel dat God praat, Hy spreek lewe, lig, en liefde. Johannes herinner die gemeente: die Evangelie is die boodskap van lewe, die uitnodiging tot gemeenskap met God self. Om die liefde van God te ervaar, begin by luister, nie met jou ore alleen nie, maar met jou hart. Daar is ’n verskil tussen hoor en luister. Om te hoor is klank. Om te luister is aandag.
In ’n wêreld waar baie mense praat, maar min mense luister, roep die Here sy kinders terug na stilte, na daardie plek waar Sy stem weer duidelik word. Wanneer ons luister na God se Woord, word Sy liefde hoorbaar tussen die lawaai van ons lewens.
As ons as gemeenskap wil genees, moet ons leer om weer te luister. Nie net na mekaar se opinies nie, maar na God se stem. Om weer te hoor wat Hy sê oor vergifnis, oor vrede, oor liefde wat volhard. Dis hier waar geloof begin: by ’n oor wat oop is vir die stem van God.
LIEFDE WAT GESIEN EN GEVAT IS: GOD SE LIEFDE RAAK WERKLIK
“Wat ons met ons eie oë gesien het, wat ons met ons hande getas het…” (vers 1)
Johannes sê: die liefde van God is nie ’n gevoel nie, dit is tasbaar. Hy beskryf dit as iets wat gesien en gevoel kan word. Hy het saam met Jesus gestap, Hom aangeraak, die seer van Sy kruis gesien, en die leegheid van die graf beleef. Vir Johannes was liefde nie abstrak nie, dit het ’n gesig gehad. Dit was vlees en bloed, genade en waarheid, in die persoon van Jesus Christus. Hierdie liefde het mense aangeraak, letterlik. Jesus het die blindes se oë gevat, melaatses aangeraak, kinders omhels.
Vir my beteken dit dat God se liefde nie ver nie is nie, dit is naby, konkreet, en teenwoordig. Dit raak ons lewens op die plekke waar ons seer is, waar ons skuldig voel, waar ons hoop verloor het.
’n Gemeenskap wat die liefde van God werklik ervaar, sal dit nie net sê nie, hulle sal dit wys. In hande wat help, ore wat hoor, en harte wat verstaan. Mense wat God se liefde aangeraak het, raak ander aan met daardie selfde liefde.
As die wêreld vra: “Waar is God se liefde?” dan wys die kerk met sy lewe, in omgee, in sagtheid, in eerlike gemeenskap, want ons het dit self gevat, gesien, en ervaar tussen mekaar.
LIEFDE WAT VERKONDIG WORD : WAT ONS ERVAAR, DEEL ONS
“Wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons ook aan julle…” (vers 3)
Die volgorde is belangrik: eers hoor en sien ons, dán verkondig ons. Ons getuig nie van iets wat ons nie self ken nie. Johannes sê:
“Ons verkondig dit sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê.”
Die doel van getuienis is gemeenskap, om ander in te trek in die ervaring van God se liefde. Ons verkondig nie net met woorde nie, maar met ons lewe.
Wanneer mense sien dat daar egtheid, warmte en vergifnis in die gemeenskap is, dan sien hulle iets van God se liefde self. En dít bring vreugde, die soort blydskap waarvan Johannes sê:
“Hierdie dinge skryf ons, sodat ons blydskap volkome kan wees.” (vers 4)
’n Gemeenskap wat weer ontdek het hoe groot God se liefde is, kan nie stilbly nie. Hulle praat daaroor, leef dit, deel dit. Getuienis word nie plig nie, maar plesier, want as jy God se liefde ervaar het, wil jy hê ander moet dit ook ervaar.
DIE LIEFDE WAT ONS ERVAAR HET
Die wêreld is vol woorde, opinies, oordele, argumente, maar wat die wêreld nodig het, is mense wat kan sê:
“Ons het Hom gesien. Ons het Hom gehoor. Ons het Hom ervaar.”
Die geloof is nie net wat ons weet nie, dis Wie ons ontmoet het en as ons Hom ontmoet het, dan verander ons, ons kyk anders, praat anders, leef anders.
Wanneer die gemeenskap weer leer om te leef uit die liefde wat hulle ervaar het, sal die wêreld begin glo dat God werklik is want, liefde wat geleef word, word altyd gesien.
“Hierdie dinge skryf ons, sodat ons blydskap volkome kan wees.” (1 Joh. 1:4)
GEBED VIR JOU VANDAG:
Here, U Woord herinner ons vandag aan die liefde wat ons ervaar het. ’n Liefde wat ons nie net hoor nie, maar sien, voel en leef.
Laat U liefde weer werklik word in ons gemeentskap in ons woorde, ons verhoudinge, en ons diens aan mekaar. Waar oordeel was, laat daar begrip wees. Waar afstand was, laat daar gemeenskap wees en waar seer was, laat daar genesing wees.
Here, maak ons getuies van die liefde wat ons ervaar het, sodat ander deur ons lewe U kan sien.
In die Naam van Jesus Christus, die Lewende Woord van liefde,
bid ons dit.
Amen.
