Teks: 1 Johannes 2:18-3:24 (Bybel 2020-vertaling)
Van lig tot liefde
In ons vorige boodskap het ons saam gestaan by Johannes se woorde:
“God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1 Joh. 1:5)
Ons het ontdek dat om in die lig te leef beteken om eerlik te wees oor ons sonde, gehoorsaam aan Christus, en liefdevol teenoor mekaar. Ons het gesê: ’n Gemeente in die lig is nie volmaakte mense nie, maar eerlike mense.”, maar Johannes los dit nie daar nie. Hy beweeg nou dieper, van lig na liefde. Hy sê: as jy in die lig wandel, sal jy ook in liefde wandel want, lig sonder liefde word koue waarheid, en liefde sonder lig word blinde sentimentaliteit. Johannes roep sy gemeente, en ons, om te leef as kinders van die Lig, waar liefde die sigbare bewys word dat Christus in ons leef. Hy doen dit in drie bewegings:
- Hy waarsku teen die gees van haat wat uit die duisternis kom,
- Hy herinner ons aan ons identiteit as kinders van God,
- en Hy wys dat liefde die kenmerk is van ware geloof.
Die lig van waarheid beskerm teen haat (2:18-28)
Johannes begin met ’n waarskuwing:
“Kinders, dit is die laaste uur. Soos julle gehoor het, kom die Antichris, en nou is daar reeds baie antichriste; hieraan weet ons dat dit die laaste uur is.” (2:18)
Hierdie “antichriste” was nie buite mense met vreemde tekens op hul voorkop nie, dit was mense binne die gemeente wat verdeeldheid gesaai het. Hulle het die waarheid oor Jesus bevraagteken en ander laat twyfel. Hulle het lig probeer verduister deur leuens, en liefde versuur deur wantroue.
Johannes sê verder:
“Hulle het uit ons geledere gekom, maar hulle was nie werklik deel van ons nie; want as hulle werklik deel van ons was, sou hulle by ons gebly het. Maar dit moes duidelik word dat nie een van hulle deel van ons is nie.” (2:19)
Hy wys dat waar liefde ontbreek, gemeenskap verbrokkel. Ware verbondenheid aan Christus wys nie in slim woorde nie, maar in ’n lewe van liefde. Daarom herinner hy hulle:
“Maar julle is deur die Heilige gesalf, en julle almal weet dit.” (2:20)
Met ander woorde: die Gees van God woon in julle en dié Gees bring lig en liefde. Wanneer jy in die waarheid bly, kan haat jou nie mislei nie. Dis nog steeds waar vandag. Ons leef in ’n tyd waar woorde vinnig gewerp word, op sosiale media, in families, in kerke. Maar die toets van waarheid bly dieselfde:
- As dit nie liefde bring nie, is dit nie lig nie.
- As dit nie dien nie, is dit nie van Christus nie.
Daarom sê Johannes:
“En nou, kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn, en nie met sy wederkoms deur Hom in die skande gestel word nie.” (2:28)
Om in Christus te bly, is om in liefde te bly. Die lig van waarheid beskerm jou teen die duisternis van haat.
Die lig van liefde openbaar ons identiteit (3:1-10)
Dan maak Johannes sy stem sagter. Sy waarskuwing word nou ’n uitnodiging:
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie.” (3:1)
Hy wil hê ons moet kyk, nie net hoor nie, maar sien. Sien hoe diep God se liefde loop. Ons is nie vreemdelinge of sondaars sonder hoop nie, ons is kinders van God. En omdat ons Sy kinders is, sê Johannes, moet ons ook soos Hom lyk:
“Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is.” (3:9)
Hy gebruik ’n beeld wat die eerste hoorders sou verstaan:
- ’n Kind dra altyd iets van sy ouer se gelaat.
- As God liefde is, dan sal Sy kinders liefde uitleef.
Johannes sê dit reguit:
“Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie” (3:10)
Dis harde woorde, maar eerlike woorde. Die lig van liefde openbaar wie ons regtig is, nie deur wat ons sê nie, maar deur hoe ons leef. In die vorige hoofstuk het Johannes gesê, “Wie in die lig wandel, struikel nie.” Nou wys hy hoekom: want liefde verlig jou pad.
Liefde laat jou sien wat God sien mense, nie as probleme nie, maar as medeskepsels; nie as bedreigings nie, maar as broers en susters.
Liefde in plaas van haat, die sigbare geloof (3:11-24)
Nou bring Johannes dit huis toe.
“Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Dat ons mekaar moet liefhê, nie soos Kain, wat uit die Bose was en sy broer vermoor het nie. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy dade sleg was, en dié van sy broer regverdig.” (3:11-12)
Hy gebruik die beeld van Kaïn en Abel om te wys hoe haat groei waar liefde afwesig is. Kaïn het nie sy broer gehaat omdat Abel boos was nie, maar omdat hy reg was. Haat word dikwels gebore uit afguns, trots en vergelyking. Johannes kontrasteer Kaïn met Christus:
“Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê.” (3:16)
Dít is die maatstaf van liefde, selfopofferende gee. Nie net woorde nie, nie net emosie nie, maar daad.
“As iemand aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart vir hom toemaak, hoe bly die liefde van God in hom?” (3:17)
Liefde vra nie: “Wat kry ek?” maar: “Wat kan ek gee?”, Nie: “Wie verdien dit?” maar: “Wie het dit nodig?” Johannes vat dit saam in ’n sin wat elke gelowige moet onthou: Moenie net met woorde liefhê nie, maar met dade en in waarheid.
“Hoe bly die liefde van God in iemand wat genoeg aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart nogtans vir hom toesluit?” (3:18)
Johannes sê nie dat haat altyd roekeloos of boos begin nie. Soms begin dit as teleurstelling, ’n misverstand, ’n onverwerkte seer, maar as dit nie in die lig gebring word nie, groei dit in die donker.Daarom is liefde die enigste manier om duisternis te breek, dit bring dinge na die lig. Hy sluit hierdie deel af met ’n belofte:
“En wie sy gebooie onderhou, bly in Hom, en Hy in hulle. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: deur die Gees wat Hy aan ons gegee het.” (3:24)
Dis die wonder van geloof:
- Wanneer jy liefhet, woon God self in jou.
- Wanneer jy vergewe, gee Hy Sy vrede deur jou.
- Wanneer jy dien, skyn Sy lig in jou hande.
Die pad van lig en liefde
Johannes se brief is nie ’n koue teologiese lesing nie; dis ’n pastorale hartklop. Hy weet: mense raak moeg, gemeentes word gespanne, liefde verkoel maklik, maar hy roep ons terug na die begin, na die Lig wat ons roep om in liefde te leef. “God is lig, en God is liefde.”
Om as kinders van die Lig te leef, beteken:
- Om waarheid bo trots te kies,
- Om liefde bo oordeel te kies,
- En om die Lig van Christus in elke verhouding te dra.
Wanneer die wêreld se stemme harder raak, laat liefde jou stiller maak. Wanneer mense teen jou praat, laat liefde jou sagter maak. Wanneer die donker oor jou pad val, laat die Lig van Christus jou pad wys want, waar liefde heers, verdwyn haat. Waar Christus leef, kom daar vrede.
Slotgebed
Here, U is Lig, en daar is geen duisternis in U nie. Laat U lig deur ons skyn, in ons woorde, ons dade, ons verhoudinge. Bewaar ons van die gees van haat, en vul ons met U liefde wat genesing bring. Leer ons om soos U te gee, soos U te vergewe, en soos U te leef. Mag die wêreld deur ons sien: God is Lig, en God is Liefde. Amen.
