’n Lewe in die Lig van God

’n Man het een aand laat van die werk af huis toe gery. Die pad was lank, donker en vol mis. Sy kopligte het skaars ’n paar meter voor hom verlig. Toe sien hy iets vreemd,  ’n klein lampie wat stadig voor hom aan beweeg. Dis toe ’n fietser met net ’n lantern aan sy stuur. Die man besluit om agter die lig aan te bly. Hy ry stadig, veilig, sonder om te verdwaal. Die klein lantern het hom deur die donker gelei tot by die afdraai na sy huis.

Daardie aand het hy besef: dit gaan nie oor hoe sterk jou eie lig is nie, maar oor wie jy volg.

Johannes sê: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1 Joh. 1:5)

Wanneer ons die Lig van God volg, hoef ons nie bang te wees vir die pad vorentoe nie. Selfs in die donker, lei Hy ons stap vir stap.

Hierdie Sondag het ons saam gepraat oor wat dit beteken om in die Lig van God te leef, eerlik, gehoorsaam en vol liefde.

Dink hieroor:

  • Volg ek die Lig, of probeer ek nog my eie pad verlig?
  • Waar het ek dalk my oë toegemaak vir God se lig in my lewe?