’n Lewe in die Lig van God.

Teks: 1 Johannes 1:5 – 2:17 (Bybel 2020-vertaling)

Verwysingstekste: Jesaja 60:1-3; Johannes 8:12

Tema: Die liefde wat ons ervaar het, word sigbaar in die manier waarop ons leef, in die Lig van God.

VAN ONTMOETING NA UITLEEF

In die vorige boodskap het ons saam gestaan by die woorde van Johannes: “Wat ons gehoor het, gesien het, en met ons hande getas het.” Ons het ontdek dat geloof nie net iets is wat jy weet nie, maar iets wat jy ervaar, die liefde van God wat jou aanraak en verander, maar Johannes bly nie daar nie. Hy vra: As ons nou hierdie liefde ervaar het, hoe lyk ons lewe daarvolgens?

En hy antwoord met een eenvoudige, maar diep stelling:

“God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1 Joh. 1:5)

Hiermee roep Johannes ons van gevoel na geloofsdaad, van belewenis na gehoorsaamheid. Om in die lig te leef beteken om die liefde wat ons ervaar het, prakties te laat skyn in die wêreld om ons. Soos Jesaja sê:

“Staan op, word verlig, want jou lig het gekom, en die heerlikheid van die Here het oor jou opgegaan.” (Jes. 60:1)

Wanneer die lig van God oor jou lewe opgaan, verander alles – jou woorde, jou besluite, jou verhoudinge. Lig bring openheid, eerlikheid en nuwe lewe.

LEEF IN DIE WAARHEID VAN DIE LIG (1 JOH. 1:5-2:2)

Johannes begin deur te sê:

“As ons sê dat ons gemeenskap met Hom het en tog in die duisternis leef, lieg ons en doen nie die waarheid nie.” (1:6)

Om in die lig te leef beteken nie dat ons sondeloos is nie, dit beteken dat ons eerlik is oor ons sonde. Lig wys wat verkeerd is, maar vernietig nie; dit genees. Daarom sê Johannes:

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1:9)

’n Gemeente in die lig is nie volmaakte mense nie; dit is eerlike mense.
In die lig van God word sonde nie weggesteek nie, maar bely. In die lig word skuld nie ontken nie, maar verlos deur die kruis.

“Hy is die versoening vir ons sondes, en nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.” (2:2)

God se lig bring nie skaamte nie, maar genesing. Waar jy eerlik voor Hom staan, word duisternis verdryf. Lig bring bevryding, want in die lig van die kruis is daar vergifnis, nuwe begin, en vrede met God.

LEEF IN GEHOORSAAMHEID (2 JOH. 2:3-6)

“Hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons Sy gebooie gehoorsaam.” (2:3)

Om God te ken, sê Johannes, is nie ’n saak van kennis of gevoel nie, maar van gehoorsaamheid. Ware kennis van God wys sigbaar in ’n lewe wat Sy wil soek en dan volg die groot uitdaging:

“Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Hy geleef het.” (2:6)

Om in die lig te leef beteken om soos Jesus te leef, om Sy woorde, Sy houding, en Sy voorbeeld na te volg. Jesus het nie in skynheiligheid of mag geleef nie, maar in nederigheid, genade en waarheid.

Gehoorsaamheid is nie ’n las nie; dis ’n antwoord op liefde. Soos die son natuurlik die aarde verlig, so vloei gehoorsaamheid natuurlik uit ’n hart wat deur liefde verander is.
Om in die lig te leef, is om elke dag te vra: Wat sou Jesus hier doen?

LEEF IN LIEFDE (2 JOH. 2:7-11)

“Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en in hom is daar geen struikelblok nie.” (2:10)

Johannes herinner die gemeente dat liefde nie ’n nuwe gebod is nie, dis die oudste een wat daar is, maar in Christus kry dit nuwe betekenis, want ons het die liefde nou gesien en ervaar. Om in die lig te leef beteken om te kies vir liefde in plek van haat, versoening in plaas van wrok, en sagtheid in plaas van oordeel. Waar liefde is, is lig. Waar haat is, heers duisternis.

“Wie sy broer haat, is in die duisternis en leef in die duisternis; hy weet nie waarheen hy gaan nie, want die duisternis het sy oë verblind.” (2:11)

’n Kerk wat werklik in die lig leef, sal bekend staan aan die warmte van sy mense.
Liefde bring lig in verhoudinge, herstel in gesinne, en vrede in gemeenskappe. As ons mekaar liefhet, bly ons in die lig, en die wêreld sal God se lig in ons sien.

MOENIE DIE WÊRELD LIEFHÊ NIE (2 JOH. 2:15-17)

“Moenie die wêreld of wat in die wêreld is, liefhê nie want, alles wat in die wêreld is, die begeertes van die vlees, die begeertes van die oë, en die grootpratery oor besit, is nie uit die Vader nie.” (2:15-16)

Johannes kontrasteer die lig van God met die skynlig van die wêreld. Die wêreld lok met dinge wat blink, maar nie bly nie: selfverheffing, materialisme, sensasie. Die drie begeertes wat Johannes noem, van vlees, oë, en trots is dieselfde drie waarmee die mensdom sedert Eden worstel. Maar dan bring hy die ewige perspektief:

“Die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar die een wat die wil van God doen, bly tot in ewigheid.” (2:17)

Om in die lig te leef beteken om jou oë gevestig te hou op dit wat ewig is. Die wêreld se ligte flikker en verdof, maar God se lig bly helder. Ons hoef nie uit die wêreld te vlug nie, maar ons moet keer dat die wêreld in ons harte intrek. Christus sê:

“Ek is die lig vir die wêreld; wie My volg, sal nooit in die duisternis wandel nie.” (Joh. 8:12)

WANDEL IN DIE LIG VAN GOD

Om in die lig te leef beteken:

  • eerlikheid oor jou sonde (1:9),
  • gehoorsaamheid aan Christus (2:3),
  • liefde vir mekaar (2:10), en
  • afwysing van wêreldse begeertes (2:15).

Wanneer ’n gemeente só leef, word Jesaja 60 se profesie waar:

“Nasies sal kom na jou lig, en konings na die glans van jou dagbreek.” (Jes. 60:3)

Die wêreld het nie nog woorde nodig nie, dit het lig nodig en lig word gesien in die mense wat God se liefde uitleef.

Here, U is Lig, en daar is geen duisternis in U nie. Skyn deur ons lewens, maak ons eerlik, gehoorsaam, en vol liefde. Bewaar ons van die wêreld se skynlig, en hou ons vas in U waarheid. Laat U lig deur ons skyn, sodat ander deur ons U kan sien. Amen