Versadig in die Woestyn

Hy het daardie oggend stadig kerk toe gestap. Die son was al warm, maar in sy binneste was daar ’n ander soort hitte, ’n dors wat nie met water stilgemaak kon word nie. Sy week was vol, sy kop besig, sy hart moeg en tog het hy gekom. Nie omdat hy sterk gevoel het nie, maar omdat iets in hom geweet het: vandag moet ek weer by die Bron uitkom.

Die prediker het begin praat oor dors. Oor daardie droë keel op ’n warm dag. Oor daardie verlange na net een sluk water, maar toe het hy sag gesê: “Daar is ’n ander dors… ’n dieper dors… ’n dors van die hart” en skielik het dit gevoel asof iemand sy eie binneste woorde hardop sê.

Toe het die verhaal van Dawid begin leef.

Nie in ’n paleis nie. Nie op ’n troon nie, maar in ’n woestyn. Alleen. Onveilig. Moeg en tog begin Dawid met hierdie woorde: “O God, U is my God, ek soek U. My siel dors na U.” Nie met “Here, red my eers” of “Here, los my probleme op” nie, maar “Here, ek het Ú nodig” en hy het besef: dis presies waar hy self staan.

Vandag nog leef mense in woestyne, nie van sand en klip nie, maar van spanning, teleurstelling, skuld, verlies en uitputting. ’n Mens kan vol wees van besig wees, vol van geraas, vol van verantwoordelikheid – en tog leeg van binne. Ware honger is nie na dinge nie. Ware dors is na God.

Selfs die kinders is ingenooi om dit te verstaan. ’n Glas water is opgelig. ’n Eenvoudige vraag gevra: “Wat doen jy as jy baie dors is?” en die antwoord was maklik: jy drink want, sonder water raak jy swak. Dan kom die eenvoudige waarheid: soms raak ons harte ook dors. Nie vir water nie, maar vir God. Wanneer dit gebeur sê God: “Kom na My toe. Ek wil jou hart vol maak.”

Terug by Dawid.

Hy is nog steeds in die woestyn. Die gevaar is nog daar. Die vyande is nog naby, maar tog sê hy: “U liefde is beter as die lewe.” Dit was die oomblik toe die man in die bank stil geword het want, hier lê die geheim van geloof: Ware geloof wag nie vir beter omstandighede nie. Ware geloof sê nie: “Ek sal U prys as alles reg is.” nie. Ware geloof sê: “Ek prys U omdat U getrou bly.”

God se teenwoordigheid is nie gebonde aan plek nie. Nie aan tempel nie. Nie aan veiligheid nie. Nie aan gemak nie. God ontmoet sy kinders selfs in die middel van hul woestyne.

Dan kom die woorde wat alles verander het: “My siel word versadig soos met die beste kos.” Versadig. Nie net verlig nie. Nie net bemoedig nie, maar werklik vol gemaak en die prediker het sag gesê: “Hier begin die psalm vooruitwys na Christus.”

Jesus, wat later sou sê: “Ek is die Brood van die lewe.” “Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie.” Nou verstaan die man hoekom hierdie dag nagmaal is want, in nagmaal gebeur iets heiligs. Nie net onthou ’n mens Jesus nie. ’n Mens ontmoet Hom.

Die brood fluister: Christus se liggaam is vir jóú gebreek. Die wyn getuig: Christus se bloed is vir jóú vergiet. Hier word dors werklik geles. Hier word skuld vergewe. Hier word geloof gevoed. Hier word hoop weer wakker gemaak. Dan kom die uitnodiging. Nie vir die volmaaktes nie. Nie vir die sterkes nie, maar vir die dorses. Vir die moeges. Vir die wat leeg is. Die man het sag in homself herhaal: “In die woestyn leer ek wie God is. By die tafel leer ek hoe naby Hy gekom het.”

Die man staan op, nie omdat hy vol gevoel het nie, nie omdat hy reg gevoel het nie, maar omdat hy geweet het: Die Bron wag en Hy wat versadig, roep.